Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, se boodskap van bemoediging aan boere in Japan ná die verwoestende aardbewing en tsoenami is in die Japanse landboukoerant The Japan Agricultural News en in Japannees op die koerant se webblad gepubliseer.
Möller het op versoek van ’n lid van die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste, mnr. Masaru Yamada, ’n boodskap van bemoediging aan die land se boere gestuur wat deur die rampe geteister is.
Sy boodskap in Afrikaans lees: “Dit was met verbystering en ongeloof wat ek in opeenvolgende televisie nuusprogramme gesien het hoe die aardbewing met die tsoenami gemeenskappe en landskappe totaal verwoes gelaat het. En dit is nie waar dit geëindig het nie.
"Die kernbestralingrisiko bly vir mens, dier en plant ’n onsigbare vyand waarvan die gevolge nog onseker is. As president van Agri SA is ek ’n wingerd- en skaapboer in die dorre Noordweste van Suid-Afrika. Ons is gewoond aan uitmergelende droogtes wat soms etlike jare kan voortduur, terwyl ons besproeiing afhanklik is van ’n rivier wat in ’n hoë reënvalgebied ontspring en soms vloedverwoesting saai."
"Vanjaar was weer so ’n geval en ons boere is besig om hard te werk aan beskadigde infrastruktuur om hulle produksiekapasiteit te herstel. Tog weet ek dat dit waaraan ek en baie Suid-Afrikaanse boere gewoond is, geensins kan vergelyk met die rampspoed en tragedie waarmee die Japanse gemeenskap nou te doen het nie.
"Wat ek wel weet, is dat herstel die oomblik begin wanneer ’n probleem as ’n uitdaging beskou word. Dit sal ook in jul gemeenskap die geval wees. En uitdagings bring geleenthede vir mense wat wil opstaan en ’n verskil in belang van hulself en andere wil bewerkstellig."
"Hierdie eienskap is dikwels sterker by mense wat in die landbou staan en so afhanklik is van wat grond, water en klimaat vir hulle bied. In Suid-Afrika het ons hoë agting vir die etiek, dissipline en werkvermoë van die Japanse gemeenskap. Ons glo julle het die innerlike krag en vermoë om hierdie ramp in ’n simbool van oorwinning te omskep. Ons glo julle kan dit doen!”
Volgens Yamada is altesame 20 000 ha plaasgrond deur die tsoenami verwoes, maar dit is net 1% van die totale landbougrond.
15 April 2011