
Die staat moet verantwoordelikheid aanvaar vir die swak administasie van die land, en burokrasie en korrupsie op alle vlakke hok slaan.
“Om die verlede te blameer of om die skuld op sogenaamde kapasiteitstekorte te plaas, is net nie meer vir die publiek, en spesifiek belastingbetalers, aanvaarbaar nie,” aldus mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy het op Agri Oos-Kaap se jaarlikse kongres gesê dat die verval van infrastruktuur, waterbesoedeling weens munisipale onbeholpendheid en “selfs die onvermoë om skole van handboeke te voorsien, net nie meer geduld word nie.”
Ná ’n onlangse besoek aan Zimbabwe, het Möller weer onder die indruk gekom van die tragedie wat dié land se landboubedryf getref het. “Ek het genoeg vertroue in plaaslike regeringsleiers dat die humanitêre krisis wat hom tans in Zimbabwe afspeel, nie hier herhaal sal word nie.”
Vrae
Hy sê landbouleiers word gereeld gekonfronteer met vrae oor of die voortsetting van boerdery-aktiwiteite plaaslik nog oorweeg moet word. Hulle wil nie slegs op die kantlyn staan en kritiseer nie, en verstaan die uitdagings wat die staat in die gesig staar.
’n Groot probleem vir die landbou is egter om voedselproduksie te verdubbel om voedselsekerheid te verseker. “Suid-Afrika sal nie hiervan kan ontkom nie en plaaslike landbou-hulpbronne sal verseker nie vir politieke opportunisme opgeoffer kan word nie”, aldus Möller.
Belê steeds
Möller sê hoewel onderhandelinge rondom grond uitdagend is, wil hy boere aanmoedig om met geesdrif te boer en verder in hul boerderye te belê.
“Niemand kan die toekoms met sekerheid voorspel nie, maar dit is duidelik dat daar wel realisme by die Regering bestaan oor die noodsaak om die kommersiële landbou in stand te hou. Daarsonder sou die benadering tot die landbou, en spesifiek grondhervorming, veel anders verloop het op die onlangse konferensie van die ANC.”
Verder meen Möller mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, bestuur die proses rondom die Groenskrif oor Grondhervorming verantwoordelik.