Die papiervervaardiger, Mondi, het ’n strategiese ooreenkoms met die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangegaan oor die tydige afhandeling van grondeise en die verskaffing van ondersteuning aan gemeenskappe nadat ’n ooreenkoms afgehandel is.
Luidens ’n berig op Fin24.com het die groep Donderdag (24 Maart), aangekondig dat mnr. Cyril Ramaphosa, sy voorsitter, en Minister Gugile Nkwinti die ooreenkoms onderteken het.
Onvoorspelbaar
Hoewel 11 van die 33 grondeise op die groep se grond in KwaZulu-Natal suksesvol afgehandel is, sê die groep die proses tot dusver was baie onvoorspelbaar vir alle partye betrokke. Die suksesvolle grondeise beslaan 18 000 ha bosbougrond.
Die ooreenkoms is aangegaan om aandag te skenk aan onduidelikhede oor veral rolle en verantwoordelikhede van die betrokke partye tydens die proses en nadat die grond oorhandig is én om te verseker die uitstaande 22 eise word binne die volgende twee boekjare afgehandel.
Nkwinti sê die ooreenkoms is in ooreenstemming met die departement se behoefte om met die private sektor saam te werk. Volgens Ramaphosa verseker dié ooreenkoms dat hulle vesel vir hul meulens kry, maar ook dat begunstigdes bevoordeel word en toekomstige leiers in die bosboubedryf ontwikkel kan word.
24 Maart 2011
Bron: Fin24.com