
Die internasionale saadmaatskappy Monsanto se netto inkomste vir die eerste kwartaal van die finansiële jaar het van $368 miljoen tot $243 miljoen gedaal, vergeleke met die eerste kwartaal verlede jaar.
Die maatskappy sê in sy kwartaalverslag dat netto verkope vir die eerste kwartaal $2,9 miljard teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar se $3,1 miljard was.
In ’n verklaring word die daling in wins toegeskryf aan onder meer minder mielies wat in Suid-Amerika aangeplant is, minder katoen in Australië en ’n verskuiwing in die tydperk waarbinne saad gewoonlik verkoop word.
Mnr. Hugh Grant, voorsitter en uitvoerende hoof, sê daar was aansienlike vooruitgang in die maatskappy se mikpunte vir die eerste kwartaal wat hulle vertroue versterk vir die res van die finansiële jaar en verder vorentoe. “Ondanks winde van voor binne die landbou-sektor oor die korttermyn, bly ons in staat om met nuwe oplossings te kom om opbrengste te verbeter en geleenthede vir groei onder die huidige omstandighede en oor die langer termyn te skep.”
Die maatskappy sê die eerste kwartaal se resultate is steeds beter as wat verwag is. Met laer mielie-aanplantings in Amerika word ’n verdere daling in die tweede kwartaal verwag met groeiverwagtinge in die derde en vierde kwartale om die jaar op ’n gelykbreekpunt te eindig.