
Die Vrystaatse veediefstaleenheid het 151 stuks vee, wat vermoedelik in KwaZulu-Natal gesteel is, op die Matsiengberg in Qwaqwa aangetref.
Die diere wat sonder toesig gevind is, is 117 skape, 8 beeste en 26 bokke.
Adj.off. Mmako Mophiring van die Vrystaatse polisie sê die veediefstaleenheid het Maandagmiddag inligting gekry dat vermoedelik gesteelde vee op die berg is. Hulle het die landelike polisiekoördineerders om bystand gevra.
Mophiring sê die veediefstaleenheid sal vandeesweek die vee nagaan vir brand- of tatoeëermerke en probeer vasstel of die vee uit KwaZulu-Natal kom.
Hy sê gelukkig is die diere gelos op ’n plek waar hulle gras gehad het om te vreet en met die baie reën die afgelope tyd, is daar ook water naby. Die diere sal in ’n munisipale skut gehou word totdat die eienaar opgespoor is.