
Petrol- en dieselprysskokke is moontlik in Maart vanjaar met die rand se huidige swak vertoning teenoor die dollar. Die rand het op Donderdag, 23 Januarie, rekordlae vlakke bereik toe dit met meer as 1% verswak het na R10,99 teenoor die dollar.
Dié verswakking is aangeteken op die eerste dag van die stakings in die platinum-mynsektor, berig Fin24.com. Die rand was sowat 2% swakker teenoor die euro en die pond teen R14,96, en R18,27 onderskeidelik.
Lede van die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksievakbond (Amcu) dring by Anglo Platinum, Impala Platinum en Lonmin aan op groot salarisstygings, wat as onbekostigbaar en onrealisties beskryf word. Die mediasieproses vir die verhogings begin Vrydag, 24 Januarie, in Johannesburg.
Nie ’n onmiddellike invloed
Mnr. Christie Viljoen, senior ekonoom by NKC Onafhanklike Ekonome, sê die invloed van die verswakking sal nie onmiddellik gevoel word wat brandstofpryse betref nie. “Die feit dat brandstofprys-verhogings op gemiddelde vir ’n hele maand se vertonings van die rand en oliepryse bepaal word, is hier ’n voordeel.”
Viljoen voorspel ’n verhoging van sowat 35c per liter petrol op 5 Februarie, terwyl ’n liter diesel dan na verwagting 15c duurder sal wees. “Die skok van die swak rand gaan nie onmiddellik ’n bykomende verhoging van 5c of 10c veroorsaak nie.”
Maart kan egter weer ’n slegte maand wees wat brandstofprys-aanpassings betref, meen Viljoen. “Veral as die rand sy swak vertoning voortsit.”
Bron: Fin24.com.