Elke keer as die koue aan haar lyf kom vat, wonder me. Heidie Taljaard (48) hoe koud moes haar ouers en suster gekry het. “Elke keer as ek my toon stamp, wonder ek hoe seer het Els (me. Elzabie Brand, haar suster) gehad. Hulle het haar kaalvoet die bosse ingesleep. Haar tone was gaar.
Stukkend gestamp teen die klippe.” Me. Trudie de Beer (52) sê ’n paar keer per dag as sy iets moois sien of goeds van hulle onthou, tref die werklikheid en wreedheid haar weer.
“Dan neem dit my gedagtes oor. Hoe was hul laaste oomblikke? Hoe is hulle dood? Was dit vinnig of het hulle erg gely?” Albei is getroud en het kinders, maar sê dit voel die afgelope twee jaar of hulle net in die lug hang.