
Die moontlikheid van persoonlike sanksies teen pres. Jacob Zuma en sy kabinetslede is ’n opsie wat Amerika en ander groot instellings dalk moet oorweeg rakende plaasaanvalle en -moorde.
Die TLU SA sê so ’n stap moet dalk gevolg word as die staat nie gehoor gee aan voorstelle wat kan volg ná die organisasie die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika om hulp genader het nie.
Luidens ’n verklaring gaan die TLU SA hom nou op die Amerikaanse ambassadeur toespits in ’n poging om plaasmoorde stop te sit. Dié stap volg ná mnr. Allen Rodgers, ’n Amerikaner, op die plaas Geluk naby Ladybrand deur drie verdagtes met kapmesse aangeval is. Hy is tans in ’n bestendige toestand.
Stem verhef
“Ons pleidooie by die Regering val op dowe ore. Dalk sal hy begin luister as van die groot moondhede hul stem begin dik maak. Dit is wat die TLU SA hoop om te behaal uit ’n gesprek met die Amerikaanse ambassadeur,” aldus mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA.
Die landbougemeenskap is die afgelope week weer geruk ná drie aanvalle en twee moorde in die bestek van twee dae in die land voorgekom het.
In die ander voorvalle is me. Ronel van Eck by haar plaashek in Noordwes doodgeskiet ná sy haar seun by die skool gaan aflaai het. Dié voorval het Maandag (13 Augustus 2012) plaasgevind. Mnr. Owen Charles en sy vrou is Sondagaand (12 Augustus 2012) op hul plaas naby Jansenville aangeval en Charles is op die toneel dood. Charles en sy vrou het Sondag haar verjaardag gevier.
Geldenhuys sê die organisasie sal voortgaan met sy veldtog om die omvang en aard van dié misdaad onder die internasinale gemeenskap en media se aandag te bring.