
Mnr. Frans Koch (69) en sy vrou, Ingrid (65), is gisteroggend in hul woonhuis op die plaas Klipheuwel in die distrik Moorreesburg op die Hopefield-pad aangeval. Ingrid is in die voorval vermoor. Frans is nog in die hospitaal. Sy toestand is stabiel.
Volgens die plaaslike plaaswag het ’n man die huis tussen 10:30 en 10:40 binnegegaan waar hy die Kochs met ’n mes aangeval het. ’n Huishulp het glo uit die huis ontsnap en hulp ontbied. Die aanvaller is kort daarna deur die werkers op die plaas aangekeer.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.
Volgens Twigg is die polisie na die toneel ontbied waar hulle Frans en Ingrid met steekwonde aan hul liggame gevind het. Mediese personeel het Ingrid op die toneel dood verklaar, terwyl Frans vir mediese behandeling hospitaal toe geneem is.
Klagte van moord en poging tot moord word ondersoek. ’n 34-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal môre in die hof verskyn.
Enigiemand met verdere inligting oor die voorval word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
Luidens ’n verklaring van Agri Wes-Kaap veroordeel die organisasie die aanval ten sterkste. Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê produsente ervaar hewige druk uit verskeie oorde en dat die veiligheid van produsente, werkers en hul gesinne nie een van dié probleme moet wees nie.
“Elke plaasmoord is een te veel. Landelike veiligheid moet boaan die prioriteitslys wees om sodoende die veiligheid van produsente, hul werkers en gesinne te verseker. Daar is ’n landelike veiligheidsplan en Agri Wes-Kaap doen ’n beroep op alle belanghebbendes om die landelike veiligheidsplan toe te pas.”