
Nadat mnr. Duran Constable (34) se hofverskyning verskeie kere uitgestel is, het hy gister die eerste keer in die Moorreesburg-landdroshof op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede verskyn.
Volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is die saak tot 19 Mei uitgestel en doen Constable nie aansoek om borgtog nie.
Constable word daarvan beskuldig dat hy me. Ingrid Koch (65) en haar man, Frans (69), op Maandag 4 April op hul plaas Klipheuwel by Moorreesburg met ’n mes aangeval en beroof het. Mediese personeel het Ingrid op die toneel dood verklaar.
’n Huishulp het glo tydens die voorval uit die huis ontsnap en hulp ontbied. Die aanvaller is kort daarna deur die werkers op die plaas aangekeer.
Constable was veronderstel om op Donderdag 7 April in die hof te verskyn. Hy het egter dié verskyning misgeloop aangesien hy ’n operasie in Paarl-hopsitaal moes ondergaan. Die saak is tot Maandag 11 April uitgestel, maar hy het ook dié verskyning misgeloop omdat hy in die hospitaalgedeelte van die Malmesbury-tronk was.
Die NVG kon nie verdere inligting verskaf oor hoekom Constable ’n operasie moes ondergaan nie. Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het egter verlede week bevestig dat die verdagte beserings opgedoen het voor hy in hegtenis geneem is.