
'n Moratorium is op die kaarte vir plaasuitsettings ná 'n stygende voorkoms daarvan in die Wes-Kaap, sê mnr. Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Skwatsha het aanwesiges by die Wes-Kaapse departement van landbou se beraad oor grondhervorming toegespreek.
Hy sê sedert April vanjaar was daar 247 uitsettings, wat wettige en onwettige uitsettings insluit. Altesaam 163 uitsettings het in die Wynland-gebied voorgekom, 10 in Eden, 28 aan die Weskus, 24 in Kaapstad, en 22 in die Overberg.
Skwatsha het gesê hulle het ook waargeneem dat die regte prosedure nie altyd gevolg word om die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming van uitsettings in kennis te stel nie.
Mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het egter gesê hy is nie bewus van enige onwettige uitsettings in die provinsie nie. Wettige uitsettings, wat reeds deur die hof is, hersiening deurgegaan en daarna toegestaan is, is wel besig om plaas te vind. "Dié proses was gebaseer op die regsproses.
"Die moratorium kan nie net op die landbou van toepassing wees nie. Dit moet landswyd op alle verhurings en plekke van toepassing wees.
"Jy kan nie 'n besigheid bedryf as jy mense op jou perseel het wat glad nie vir jou kan help met produksie nie en hulle produktiewe mense se plek inneem nie."
Hy het ook bygevoeg die Regering moet dit duidelik maak hoeveel uitsettings onwettig en hoeveel wettig is wanneer hy statistiek bekend maak.