Die moratorium op 50:50-aandeleskemas is na aanleiding van ’n werksessie amptelik opgehef, sê die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Luidens ’n verklaring het die departement, kommersiële boere en plaaswerkers wat reeds deel is van sulke aandeleskemas Vrydag (11 Maart) aan ’n werksessie deelgeneem waar aanbeveel is dat dié moratorium opgehef moet word, hoewel dit met voorwaardes gepaardgaan.
Die tema het verskeie keer onder bespreking gekom nadat me. Helen Zille, die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), dié aanbeveling verlede jaar tydens die veel besproke plaaswerkersberaad gemaak het. Die moratorium is in 2009 ingestel.
Die voorwaardes
Die moratorium is ingestel omdat navorsing bevind het dat die skemas vroeër nie suksesvol was nie, weens onder meer gebrekkige ondersteuning aan sommige begunstigdes, gebrekkige verblyfsekerheid vir inwonende plaaswerkers en plaaswerkers/aandeelhouers wat dividende wou ontvang hoewel hulle nie op die plaas gewerk het nie.
’n Nuwe stel voorwaardes is opgestel, en dit bepaal:
1. Duidelike kriteria moet vir elke projek en die kies van begunstigdes opgestel word.
2. Die sukses en volhoubaarheid van elke projek moet duidelik omskryf word.
3. Opleiding in tegniese, persoonlike en bestuursvaardighede moet die gedeelde verantwoordelikheid van die staat en boere wees.
4. Finansiering en die rol van die staat moet duidelik omskryf word in ooreenkomste wat met die Land Bank, die IDC (voorheen die Nywerheidsontwikkelingskorporasie) en ander belanghebbendes aangegaan word.
5. Rade en belanghebbendes moet betrek word om deelname van ander staatsdepartemente moontlik te maak.
6. ’n Werkgroep, wat uit kommersiële boere en skemavennote bestaan, moet saamwerk om ’n volledige model vir plaaswerkerverblyfsekerheid op te stel.
7. Die terminologie waarmee dié skemas verduidelik word, moet nie rasseverwysings insluit nie.
8. Alle vennote moet as gelyke vennote in die sake-eenheid betrokke wees.
9. Die voordele wat uit dié boerdery-onderneming geniet word, moet proporsioneel tot die bydrae van elke belanghebbende verdeel word.
10. Die motief van elke vennoot moet duidelik wees voordat die onderneming gestig word.
Tydens die werksessie is besluit dat bestaande skemas hersien moet word voordat die departement besluit of geld aan hulle beskikbaar gestel sal word.
14 Maart 2011