Met 279 renosters wat vanjaar al doodgemaak is, word ’n moratorium op die jag van renosters oorweeg.
Luidens ’n verklaring het me. Edna Molewa, die Minister van Omgewingsake en Waterwese, Maandag (29 Augustus 2011) aangekondig dat sy van plan is om met al die provinsiale LUR’e oor die saak te vergader en die wettige prosesse van raadpleging te volg voordat enige amptelike besluite geneem word.
Molewa wens alle owerhede geluk wat by die inhegtenisname van renosterstropers betrokke is. Altesaam 155 verdagtes is reeds vanjaar aangekeer, waarvan 65 in die Kruger-wildtuin gevang is.
Permitte
Volgens Molewa is een van die grootste bedreigings vir die voortbestaan van die renosterbedryf die misbruik van die permitsisteem. “ ’n Ongelukkige uitdaging waardeur ons in die gesig gestaar word, is die misbruik van die sisteem deur gewetenlose individue.”
Te midde van dié uitdaging het Molewa en die nege LUR’e onlangs veranderinge aan die norme en standaarde vir die merk van renosterhorings en die trofeejag van witrenosters gemaak.
Dié veranderinge sluit in:
- ’n Provinsiale omgewingsbewaringsbeampte moet by elke sodanige jaggeleentheid betrokke wees en die identiteit van die jagter moet geverifieer word.
- Die beampte moet ook die departement van die permitnommer, die inligting op die agterkant van die permit, asook die nommer van die mikromerker voorsien.
- Verder moet die beampte ook ’n geen-monster van die renoster tydens elke jaggeleentheid versamel.
Navorsing
Intussen gaan die drie studies wat die staat oor die bedryf onderneem het, voort. ’n Impakstudie oor die onthoorning van renosters behoort binne die volgende drie maande voltooi te wees.
Die ander twee studies is onlangs geadverteer en die sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag, 2 September 2011. Dié studies fokus op die volhoubaarheid van wettige renosterhoringhandel in Suid-Afrika en die ontleding van die internasionale mark.
30 Augustus 2011