
Die Mosambiekse regering het Suid-Afrikaanse boere genader om ook moontlik in die Zambezia-provinsie te boer, sê AgriSAmos.
Mnr. Piet Potgieter, voorsitter, sê die goewerneur van dié provinsie het hulle genader met ’n versoek vir Suid-Afrikaanse boere om ook daar te gaan boer.
Sowat 800 Suid-Afrikaanse boere boer tans in dié land of het hul bedrywighede daarheen uitgebrei. Dié boere het hulle meestal in die Gaza-provinsie gevestig.
Nampo-Oesdag
’n Afvaardiging van Mosambiekse hooggeplaastes, wat die Nampo-Oesdag vanjaar besoek het, het dié versoek aan Potgieter en die res van die organisasie gerig.
Mnr. Lazaru Nhangumbe, ’n agent vir die bevordering van die landbousentrum in Mosambiek, sê hulle meen dat verdere samewerking tussen dié twee lande ’n deurslaggewende rol in Mosambiek se landboubedryf kan speel.
Volgens Nhangumbe word slegs sowat 15% van Mosambiek se 36 miljoen ha bewerkbare grond tans produktief aangewend. Die goewerneur van Zambezia het glo aan AgriSAmos gesê dat hulle graag sake met Suid-Afrikaanse boere wil doen, en “dat hulle die vaardighede van die Suid-Afrikaanse boer in hul provinsie wil hê.”
Hou Landbouweekblad dop vir verdere inligting oor die situasie.
17 Mei 2012