Die voorstel dat die beginsel van gewillige-koper/gewillige-verkoper in die pad van grondhervorming staan, is onsin, sê adjunk-president Kgalema Motlanthe.
Luidens ‘n berig in Die Burger (9 November) het Motlanthe dié stelling tydens ‘n vergadering met die parlementêre persgalery gemaak. Volgens hom sal die Grondwet nie verander word om die staat se teikens met grondhervorming te haal nie.
“Suid-Afrikaanse wetgewing maak nog al die jare onteiening of vervreemding van grond moontlik, waar dit in die openbare belang is. Só ’n proses, en die redelike vergoeding daaraan verbonde, staan onder gesag van die hof. Die staat moet presies kan aantoon wat met die grond gedoen gaan word, en hoekom dit in die openbare belang is, voordat die hof sal instem,” aldus Motlanthe.
Volgens Motlanthe sal die Grondwet nie gewysig word nie ten spyte van stellings wat deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, gemaak is. Nkwinti het vroeër gesê dat die Grondwet verander moet word as die Regering se doelwitte vir grondhervorming nie bereik word nie.
Bron: Die Burger
9 November 2011