
Meer bekostigbare bronne van landboufinansiering is gebiedend nodig om die onvriendelike omgewing waarbinne die Suid-Afrikaanse landbouprodusent tot voedselsekuriteit moet bydra, teen te werk.
Mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap, het op die jaarkongres in Kimberley gesê die alternatiewe en bekostigbare landboufinansiering wat nodig is, is soortgelyk aan die oorbruggingsfinansiering wat deur die destydse Landboukredietraad beskikbaar gestel is.
Hy het gevra hoe lank dit ná die nadraai van die droogte gaan duur vir boere om te herstel in 'n erg gereguleerde omgewing waarbinne geen staatshulp toegestaan word nie. "Hoe moet ons onsself in 'n staatsbestel wat faal, posisioneer?" het hy gevra hy.
Landbou lewer kos te goedkoop
"Die rendement wat landbouers ontvang in verhouding tot hulle kapitale belegging in die landelike gebiede is ongunstig en die landboubedryf lewer voedsel, vesel en wyn té goedkoop in 'n swaar gesubsidieerde omgewing."
Van Wyk het na Suid-Afrika se subsidie aan die plaaslike motorbedryf van sowat R17,5 miljard verwys, wat grootliks ten bate van buitelandse vervaardigers is, en gevra of dieselfde hulp nie aan sy produsente gegee kan word nie.
Volgens hom is hy nietemin opgewonde oor die toekoms van die bedryf aangesien die landbou die regte plek is om te wees. "Die toekoms van landbou is groen," se hy.
* Lees ook: Miljarde vir Eskom, SAA, niks vir landbou