Mnre. Johnny Copeland, Marcel Golding en Andre van Veen van Hoskins Consolidated Investments (HCI) sal in die plek van mnre. Jannie Mouton, Antonie Jacobs en Phillip Retief as direkteure van die KWV gekoöpteer word wanneer laasgenoemde drie Donderdag (10 Februarie) hul bedankings indien.
Omstrede aanbod
Mouton het Maandagaand ‘n inligtingstuk getiteld “Die KWV-storie” in die media versprei waarin hy sy kant van die saak stel oor gebeure by die KWV die afgelope paar maande. Die KWV haal sedert einde 2010 die nuusblaaie vanweë ‘n omstrede aanbod deur Pioneer Foods om dié drankmaatskappy te koop.
In die inligtingstuk maak Mouton skokonthullings oor ‘n geknoei met stemme en buitensporige salarisse aan voorsitters. Hy sê ook hy het by die KWV geleer die afkorting ROE (opbrengs op aandeelhouersfondse) staan nie vir “Return on Equity” nie, maar vir “Return on Ego”.
“Geld word verkwis op luukse onthale, oorsese reise, persaankondigings, die PR-afdeling, lewensgroot skilderye van voorsitters, ensovoorts,” skryf Mouton.
Beste prys
Oor Pioneer Foods se onsuksesvolle aanbod om die KWV te koop, en waaroor onder andere Mouton en Jacobs dikwels in die media gekruisig is vanweë hul betrokkenheid by beide ondernemings, sê hy die belange was openbaar aan die KWV.
“Ons wil dit graag so stel: Zeder hou ‘n belang van 35,3% in die KWV en 13% in Pioneer via Kaap Agri. Ons is professionele beleggers, so logika skryf voor dat ons sal poog om die beste prys moontlik te bewerkstellig waar ons die grootste aandeelhouding het.
"Enige aansprake oor die teendeel is ongegrond om die minste te sê. Ons is verkopers van die KWV en sal enige aanbod beter as die van Pioneer Foods aanvaar. Dit is irrelevant wie die koper is. Ons doel bly om aandeelhouerswaarde te skep, en dit nie te vernietig nie.”
Ander aanbod
Volgens Mouton het Phetogo en Keet (wat saam meer as 25% aandele in die KWV besit) laat blyk hulle gaan nie die transaksie steun nie en is dit “op ‘n vriendelike wyse beëindig, want dit sou net onnodige koste veroorsaak”.
Copeland en Golding van HCI het die dag nadat die transaksie deur die mat geval het ‘n aanbod gemaak vir Zeder se aandele. Dit is teen R11,80 – 20c minder as wat Pioneer Foods aangebied het – verkoop.
Lees meer oor die inligtingstuk in volgende week se uitgawe van Landbouweekblad.
9 Februarie 2011