
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) is bekommerd dat melkkopers in Suid-Afrika dalende internasionale suiwelprodukpryse as verskoning kan gebruik om plaashekpryse hier te verlaag.
Dr. Koos Coetzee, MPO-hoofekonoom, sê dit is belangrik dat kopers nie winterpremies in die lente ophef nie, omdat hierdie premies boere in staat kon stel om meer op die voeding van hul produserende en droë diere te bestee, wat belangrik is vir produksiegroei.
“As die winterpremies in die lente gestaak word, kan ons volgende jaar in die winter met dieselfde situasie sit: tekorte aan melk op winkelrakke. Wanneer ’n boer sy koeie beter voer, neem dit ses tot sewe maande om die resultate daarvan in produksie te sien.”
Coetzee sê internasionale suiwelpryse het sedert die begin van die jaar aansienlik gedaal. Dit is weens verwagte hoër produksie in uitvoerlande, wat in reaksie was op stygings in produsentepryse verlede jaar.
Wat nié verwag is nie, is die onrus in die Oekraïene. Luidens die MPO se weeklikse nuusbrief is die groeiende vraag na suiwelprodukte, veral in Asië, deur Rusland se onlangse verbod op die invoer van suiwelprodukte uit die Europese Unie (EU) geneutraliseer.
Dit het op sy beurt tot ’n ophoping van intervensievoorraad in die EU gelei. Dit is surplusvoorraad wat die EU-kommissie koop om pryse in die mark te beskerm. Die ophoping het druk op internasionale pryse geplaas.
Op die Fonterra-veiling van 2 September, die Nieu-Seelandse melkveiling waaraan internasionale pryse gemeet word en wat ‘n norm vir internasionale pryse stel, het pryse met 'n verdere 6% gedaal. Indien die krisis nie vinnig opgelos word nie, kan dit tot hoër aanbod op markte buite Rusland lei en verdere prysdalings tot gevolg hê.
Coetzee sê Suid-Afrikaanse produsente behoort nie regstreeks deur dalende wêreldpryse geraak te word nie, omdat produsentepryse hier nie in 2013/’14 in dieselfde mate as pryse in ander lande gestyg het nie en steeds onder invoerpariteit is.
Laer produsentepryse wat reeds vir Nieu-Seeland en ander lande aangekondig is, gaan waarskynlik ook tot laer produksie in 2014/’15 lei.