
Mnr. Fanie Ferreira, melkboer, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO) se Noordstreek en ’n MPO-direkteur, is tot einde vanjaar as tydelike uitvoerende hoof aangestel nadat die vorige hoof ná ’n kort dienstydperk bedank het.
Ferreira het reeds verlede jaar van Maart tot Desember as uitvoerende hoof waargeneem. Hy is nou van 1 Maart tot einde vanjaar in ’n tydelike hoedanigheid in die pos aangestel.
Dit volg nadat mnr. Gerhard Kriel, wat op 3 Januarie as uitvoerende hoof by die MPO begin werk het, op 11 Februarie bedank het.
Ferreira sê in ’n verklaring deur die MPO hy is bevoorreg om die organisasie in sy oorgangstydperk te lei, nou saam met waardekettingvennote te werk en die saak van die melkprodusent te ondersteun en bevorder.
Hy is opgewonde oor die melkbedryf se vooruitsigte en geleenthede, ondanks die verskeie probleme.
‘Bly in die bedryf’
Ferreira moedig sy mede-melkprodusente aan om in melkboerdery te bly en nie die bedryf te verlaat nie. Hy sê boere moet meer as ooit tevore saamspan met bekwame vennote wat die werklikhede van die sektor verstaan.
“Boere is entrepreneurs wat strawwe mededinging pak en in ’n veeleisende bedryf is. Ons lewens word elke dag ingewikkelder en die hoë verwagtinge van die regering en ons verbruikers plaas ons onder deurlopende druk.”
Hy is daartoe verbind om die volhoubare welvaart van melkprodusente te bevorder.
Ferreira ‘bring konsekwentheid’
Die MPO sê Ferreira bring meer as 25 jaar se melkboerdery-ervaring en praktiese ervaring van die herstrukturering van die organisasie die afgelope jaar na die pos.
Volgens mnr. Colin Wellbeloved, voorsitter van die MPO-direksie, bring Ferreira deur sy ervaring konsekwentheid en gesonde bestuur. In net ’n jaar het die MPO sy woorde in werking gestel om ’n kragtige, opregte verbintenis met sy lede te bou.
Die organisasie sien daarna uit om onder Ferreira se leierskap strategiese nuwe markte te betree en sleutelvennootskappe te versterk.