Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het vir die eerste keer in 19 jaar sy ledegeld verhoog.
Luidens ’n mediaverklaring is die vorige verhoging in 1992 deur die destydse Melkraad as heffing aangekondig en dít is sedert 1 Januarie 1993 van krag.
Vrywillige ledegeld sal vanaf 1 Julie vanjaar op aanbeveling van die MPO-direksie van 0,4 sent per liter tot 0,5 sent per liter verhoog word. “Dit sal die MPO in staat stel om sy dienste voort te sit en verder te verbeter,” lui die verklaring.
Steun
Die organisasie sê hy het tot dusver oorweldigende steun vir dié besluit ontvang. Sowat 80% van melkprodusente in die land het reeds hul goedkeuring vir die verhoging gegee.
Volgens die MPO bestaan ’n groeiende behoefte by boere dat die organisasie leemtes aanvul wat deur gebrekkige ondersteuning en dienslewering deur die staat gelaat word.
“ ’n Voorbeeld hiervan is die bestuur van invoer, wat daartoe gelei het dat onwettige en laegraadse suiwelinvoer grootliks beperk is,” verduidelik die MPO.
Mnr. Dean Kleynhans, voorsitter, sê die goedkeuring van die verhoging is vir die organisasie ’n riem onder die hart. Hy meen melkprodusente goedkeuring daarvan ondanks moeilike ekonomiese toestande, is ’n “klinkklare bewys” van die vertroue in die organisasie.
24 Mei 2012