Mpumalanga Landbou is by die Cradle of Life, duskant Badplaas, gebore.
Dié provinsiale landbou unie is die plaasvervanger vir Agri Mpumalanga en sal eersdaags by Agri SA affilieer. Agri Mpumalanga is onlangs onder vrywillige likwidasie geplaas, ná ‘n kunsmistransaksie skeef geloop het.
Die voorsitter van Mpumalanga Landbou se loodskomitee, mnr. Koot Claassen, is as voorsitter van Mpumalanga Landbou verkies.
Claassen sê die Laeveld is destyds deur Agri Mpumalanga afgeskeep en die nuwe organisasie wil keer dat dit weer gebeur. Om dié rede is twee ondervoorsitters – een vir elke streek - verkies. “Dit is noodsaaklik dat lede van regoor die provinsie binne die organisasie tegemoet gekom moet word. Mpumalanga is divers as jy kyk na al die gewasse wat ons hier verbou.”
Die twee ondervoorsitters, een uit die Laeveld en een uit die Hoëveld, sal Claassen bystaan. Hulle is mnr. Alun Saayman (Laeveld) en mnr. Leon van Rooyen (Hoëveld).
Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, het die boere gelukgewens met die wyse waarop die nuwe organisasie gestig is. “Dit wys dat ons met boere met ‘n verantwoordelikheidsin te make het. Agri SA is bly dat die dag so vinnig en mooi aangebreek het.”
Altesaam 27 boereverenigings, vier bedryfsorganisasies (Rooivleisprodusente-organisasie, Mpumalanaga rietkwekers, Graan SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging) en ‘n assosiaatlid (Vroue Landbou Unie) het die vergadering bygewoon en is reeds by Mpumalanga Landbou geaffilieer.
2 September 2010