
Die SA Menseregtekommissie (MRK) is bekommerd dat die getal uitstaande grondeise (8 733 tydens 'n ondersoek) nie reg getel is nie. Volgens die MRK is dit omdat die stelsel wat gebruik is om die eise te tel, verskeie kere verander het.
Teen 31 Maart vanjaar was 8 471 bestaande eise nog nie afgehandel nie, maar die meeste daarvan was reeds in die ondersoekfase.
Die Kommissie op die Herstel van Grondregte het aan die MRK erken daar was teen 31 Desember 1998 nie 'n behoorlike stelsel in werking om die eiseproses te hanteer nie. Sommige mense het twee keer 'n eis ingedien om te verseker dat hul eis ontvang is. Daar was geen rekonsiliasieproses nie. 'n Databasis is eers in 2000 begin.
Die MRK het in sy ondersoek bevind ‘n groot probleem is dat eisers, wat hul eis vóór die spertyd ingehandig het, nie meer inligting oor die status van hul eis kry nie.
Nóg 'n probleem was die navorsing ten opsigte van die eise. Die Kommissie op die Herstel van Grondregte hulp aangevra by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en Unisa.
Die MRK is ook bekommerd oor die impak van die herinstelling van grondeise op die afhandeling van die bestaande eise. Die grondeisproses is 1 Julie vanjaar vir ’n verdere vyf jaar heropen.