Die Menseregtekommissie (MRK) is traag om uitspraak te lewer op klagtes van haatspraak oor uitsprake teen boere, sê Agri SA.
Dié klagtes is teen mnr. Tokyo Sexwale, Minister van Menslike Nedersettings en mnr. Julius Malema, leier van die ANC Jeugliga, gelê.
Sexwale het op 3 November 2009 die volgende op SABC 2 gesê: “...mense word afgeskop van plase deur baie, baie bose boere... ”. Op 28 Januarie vanjaar het die hy weer tydens ‘n portefeuljekomiteevergadering gesê: “...baie mense wat hulle nou in plakkerskampe bevind is daar omdat baie boere miljoene swart mense van hulle plase afgejaag het....”
Malema word daarvan aangekla dat hy op 9 Maart tydens ‘n studentesaamtrek by die Universiteit van Johannesburg die omstrede lied “kill the boer, kill the farmer”, gesing het. Die lied is in 2001 as haatspraak verklaar.
Verskeie briewe is al gestuur
Mnr. Kobus Visser, Agri SA se direkteur van korporatiewe skakeling, sê nadat verskeie briewe aan die MRK oor dié klagtes gestuur is, het die kommissie nog nie ‘n uitspraak gelewer nie.
Die organisasie het die MRK aanvanklik versoek om dié uitspraak as ‘n saak van dringendheid te ondersoek om te bepaal of dit op haatspraak neerkom. “Sodanige bevindings is nog nie deur die MRK gemaak nie en Agri SA het pas weer die MRK versoek om nou dringend ‘n bevinding hieroor te maak,” lui die nuusbrief.
3 September 2010