As die bespuiting van die muggies langs die Oranjerivier nou behoorlik gedoen word, sal die plaag eers oor twee jaar onder beheer wees.
Mnr. Hennie Visser, ’n boer van Boesmanland, sê dit is die inligting wat kundiges onlangs aan boere oorgedra het en dié wete is kommerwekkend.
“Dit beteken dat as hulle die plaag vanjaar behoorlik bespuit, ons volgende jaar wéér so erg gaan deurloop voor dinge oor twee jaar eers beter gaan lyk,” sê ’n moedelose Visser.
40 lammers
Visser het in September sowat 40 lammers weens die muggies verloor. Van die lammers is dood omdat hulle aanhoudend deur muggies gebyt is, terwyl ander doodgelê is. Die lammers word doodgelê wanneer hulle vasgekeer raak in ’n trop skape of bokke wat saamdrom om die muggies te probeer afkeer.
Een so ’n lam is van R1 000 tot R1 250 werd, so Visser se verlies staan reeds op sowat R40 000.
“Dit is uitgesluit die kondisie wat my diere verloor omdat hulle nie wei nie, maar heeldag in ’n bondel staan om van die goed ontslae te probeer raak.”
Werkers
Volgens Visser is die situasie tans in sekere dele so erg dat baie werkers nie kans sien om te werk nie. Winkelgroepe in van die distrikte het ’n geleentheid gesien en verkoop tans muskietnethoede, wat sowat R30 stuk kos.
“Van die werkers is so desperaat om te werk en ’n inkomste te verdien dat hulle self die hoede gaan koop het.”
Voorbereidings moet tans getref word vir die komende oestyd vir tafeldruiwe en baie boere teken verliese aan omdat van hulle nie werkers kan uitstuur om te werk nie, maar hulle die werkers steeds moet betaal.
“Produktiwiteit het ook gedaal. Waar jy gewoonlik twee hande sou hê om te werk, moet jy nou met die een hand waai terwyl jy met die ander een werk, wat beteken jou produksie daal met 50%,” sê Visser.
Kyk hier na video's deur die Departement van Landbou oor die voorkoms van muggieplae.
30 September 2011