
’n Boer van Boesmanland het sedert die begin van die maand al sowat R20 000 skade weens ’n muggieplaag gely.
Mnr. Hennie Visser, van die plaas Nous/Suid tussen Kakamas en Pofadder, sê hy het vier jaar gelede 72 lammers weens muggies verloor.
“Ek boer nou al nege jaar op dié plaas. In dié tyd het ek jaarliks gemiddeld 60 lammers per seisoen weens die muggies verloor. Die laaste twee jaar se skade kan teen sowat R1 000 per lam bereken word. As ’n mens dit bymekaar tel, is dit groot skade,” vertel Visser.
Visser sê tans wei sy diere vroegoggend, maar sodra dit warmer begin raak, vlug hulle na die water om van die muggies te probeer wegkom. Die plaas is sowat 60 km van die Oranjerivier af.
Laat gelam
Visser sê weens die droogte lam die meeste van sy bok- en skaapooie laat. “Met die droogte kon ons eenvoudig nie die ramme vroeër by die ooie laat loop nie, want die diere was nog te maer.”
Sowat 300 van Visser se skaapooie moet lammers hê. Hy sê om van die muggies te probeer wegkom, staan die trop egter in ‘n bondel en baie lammers raak van hul ma’s geskei.
Dié lammers het dan nie beskerming teen die muggies nie, en dan byt die muggies die lam so baie dat dit vrek. Met die diere wat so saamdrom, word talle lammers ook in die loop van die dag doodgelê.
“Die ooie los eenvoudig soggens hulle lammers en hardloop water toe vir beskerming. En hoe moet ’n ooi haar lam kry wat reeds 12 tot 14 uur op ’n dag nie by sy ma is nie?” aldus Visser.
Blinde boklam
Visser het aan Landbou.com foto’s van ‘n blinde boklam gestuur. Dié lam se oë is só deur die muggies gebyt dat hy moontlik net tussen 5% en 10% se sig in sy een oog sal hê. “Hulle het tot sy ooghare weggevreet.” Kyk hier na dié en ander foto's van die lammers.
Visser sê hy en sy buurmanne is baie bekommerd oor die feit dat hul diere, wat deur ’n droogte geaffekteer is, kondisie verloor omdat hulle nie kan wei nie. “Ons kan nie vier tot vyf maande in die jaar muggies hê nie. Watter boer kan dit oorleef?”
Intussen hoop Agri Noord-Kaap dat die staat binne die volgende dae ’n helikopter beskikbaar sal hê om gif langs die rivier te begin spuit. Lees meer oor die stryd rondom dié helikopter hier.
16 September 2011