
Muggies pla steeds in die Noord-Kaap en boere ly al hoe groter verliese, terwyl die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie genoeg gif het nie.
Mnr. Hoffie Joubert, Agri SA se verteenwoordiger vir migrerende plae, sê die eerste spuitsessie het nie geslaag nie, want die gif was nie sterk genoeg nie.
Die tweede spuitsessie het geslaag en die volgende geslag larwes het gevrek. Die derde spuitsessie kon egter nie suksesvol uitgevoer word nie, omdat die gif te min was.
Die departement het glo 18 000 liter gif aan die begin van die seisoen gehad. Vir elke spuitsessie is sowat 8 000 liter gif nodig. Met die derde spuitsessie was minder as 4 000 liter oor, wat beteken het dat sowat die helfte van die geraakte gebied gespuit kon word.
Hoë temperature
Joubert sê al wat boere tans kan doen, is om te wag vir hoë temperature, soos 40 grade Celsius, sodat die muggies kan vrek. Die volgende besending gif moet van Amerika af ingevoer word en dit behoort Suid-Afrika eers in Januarie of Februarie aanstaande jaar per skip te bereik.
Mnr. Hennie Visser, ’n boer van Boesmanland, sê hy is dankbaar dat hy die afgelope maand min las van muggies gehad het. “Hier by my is dit skoon, maar as jy daar naby Upington ry, sien jy nog die muggies wat plek-plek saamdrom.”
Een van Visser se boklammers, wat twee maande gelede gebore is, is blind ná die muggies hom gebyt het.
Tafeldruiwe
Joubert sê van die druiweboere het reeds aangedui dat hulle las het van die muggies, wat gevolglik hul produksie beïnvloed. Die muggies pla plukkers baie, wat beteken dat die druiwe stadiger as gewoonlik gepluk word, en dat die werkers nie so gereeld soos gewoonlik kan pluk nie.
“Van die boere het van voor af las en kan verliese ly. Van hulle sal moontlik in die nag onder spreiligte moet pluk. Dít sal hulle weer ekstra koste aan kragverbruik en werkers se lone uit die sak jaag,” aldus Joubert.
Mnr. Johan van Niekerk, voorsitter van die Tafeldruifvereniging, sê hy het nog nie baie klagtes van boere met tafeldruiwe langs die rivier ontvang nie. “Van hulle het wel al begin pluk, maar die groot plukkery sal eers oor twee weke in alle erns begin.”
Joubert sê die groep van 21 boere wat vroeër regstappe teen die staat gedoen het weens die situasie en hul gevolglike verliese, is steeds besig met hul regsaansoek. “Iemand moet tot verantwoording geroep word vir die situasie,” sê Joubert.
Landbou.com wag tans op antwoorde van die departement oor die gifvoorraad.
8 November 2011