'n Voorstel deur die Amerikaanse regering dat die Doha-ooreenkoms laat vaar moet word, is onaanvaarbaar, sê dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Dié ooreenkoms is in 2001 op 'n vergadering van die Wêreldhandelsorganisasie in Doha aanvaar. Hy woon tans saam met ministers van 18 ander voedseluitvoerlande die 36ste ministeriële vergadering van die Cairns-groep in Saskatoon, Kanada, by.
Suid-Afrika is die enigste Afrikaland wat deel vorm van die groep, en Mulder neem deel aan besprekings rakende die Doha-ooreenkoms.
Oordeel
“Die geskiedenis gaan ’n harde oordeel vel oor die lande van die Wêreldhandelsorganisasie wat nie die belangrike Doha-voorstelle wil deurvoer nie, terwyl duisende mense in die landbousektor hul werk verloor en miljoene honger moet gaan slaap,” sê Mulder.
Volgens Mulder is die landbou steeds een van die sektore in die wêreld wat die meeste verwringing van markte ervaar. Dit moet reggestel word. Hy sê dié verwringing word deur veral deur die groot landbousubsidies in Amerika en die Europese Unie veroorsaak.
Dié subsidies maak dit vir onder meer vir Suid-Afrika baie moeilik om op internasionale vlak mee te ding. Mulder sê Suid-Afrika ondersteun die G20-standpunt dat al die beperkinge wat lande op die in- en uitvoer van voedsel plaas, net daartoe lei dat dié mense wat voedselnood het, die swaarste onder “hierdie onbillike reëls ly”.
10 September 2011