Sy stellings oor grondbesit deur dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het skade aan Suid-Afrika gedoen, sê prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Jansen het Graan SA se 2012 kongres op Nampopark oor leierskap in die landbou toegespreek.
Volgens Jansen moet die grondkwessie nou hanteer word deur die ongelykhede van die verlede te erken, maar om dan in samewerking oor alle vlakke en kulture saam aan die toekoms te werk. “Dit maak nie saak wie eerste hier was nie. Ons moet vir mekaar sê ons is nou hier en hoe gaan ons nou saamwerk.”
Steur jou nie aan ‘mal’ politici
Jansen het afgevaardigdes aangemoedig om hulle nie te steur aan “mal” politici nie. Hy meen die mees belangrike faktor om eenheid in die land te bewerk is om teen die populêre kultuur in te werk. “En die populêre kultuur is die politieke kultuur, en hulle is mal!”
“As mense liede sing, soos ‘Skiet die boer’, moenie daarop reageer nie. Jy mors tyd en energie daarop. Moenie reageer op malgeit nie,” aldus Jansen.
Skoling en opvoeding
Nog ‘n probleem wat skeiding in die samelewing veroorsaak is volgens Jansen seuns wat spesifiek op plase “verkeerd” geleer word. “Seuns word geleer om probleme met hulle spiere op te los. Wanneer laas het julle julle seuns geleer hoe om te huil, menere?
“Een van ons grootste uitdagings is om ons seuns vandag groot te maak om respekvol teenoor almal in Suid-Afrika op te tree, ook op plase. Ons moet teen die populêre kulturele grein begin optree want haat is weer besig om tussen ons mense te setel,” sê Jansen.
Hy moedig ook organisasies soos Graan SA aan om by skoling en skolingsprosesse betrokke te raak. “Ons land se toekoms en hoe ons oor die weg gaan kom begin op skoolvlak. Dis belangrik dat julle daar betrokke raak.”
7 Maart 2012