“Dit is absolute, dubbele standaarde van die ANC om te wil besluit watter geskiedenis hulle wil behou en watter geskiedenis hulle nie pas nie,” aldus dr. Pieter Mulder, die leier van die VryheidsFront Plus.
Luidens ’n verklaring volg dié kommentaar op mnr. Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal van die ANC, se beswaar teen ’n beslissing van die Grondwethof dat mnr. Robert McBride wel ’n moordenaar genoem mag word. Terselfdertyd veg die party in die hof om te keer dat die “Skiet die boer”-lied as haatspraak verklaar word.
McBride is aan moord skuldig bevind nadat mense dood is weens die Magoo’s Bar-bom-voorval. Mulder sê amnestie het nie dié feite verander nie en Mantashe se uitsprake gaan dit ook nie verander nie, al het McBride amnestie gekry.
Mandela-atmosfeer
Volgens Mulder wil die meerderheid Suid-Afrikaners harmonie en vrede hê. Dit kan nie bereik word deur geskiedenis weg te wens nie, maar deur dit verstandig te bestuur.
“Om in die hof ‘Skiet die boer’ te probeer regverdig in die huidige plaasmoorde-tydvak en dit dan voor die hof te sing, getuig van ’n ongevoeligheid en ’n arrogansie van die ANC wat nie harmonie en vrede bevorder nie."
"Terselfdertyd eis die ANC dat mnr. Robert McBride nie ’n moordenaar genoem mag word nie. Dit is dubbele standaarde. Suid-Afrika kort tans ’n Mandela-atmosfeer en nie ’n Malema-atmosfeer in die land nie,” sê Mulder.
Hy sê die gebeure wat tans afspeel, kan goed wees om stemme te werf en mense te mobiliseer, maar dit lewer geen bydrae tot die vreedsame naasbestaan van ’n diverse Suid-Afrika nie.
14 April 2011