
Die ernstige probleem met grondhervorming in Suid-Afrika is die betrokke departement se “totale gebrek aan kapasiteit.”
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê as dié kwessie nie aandag kry nie, loop alle voorstelle vir verbetering die risiko om te misluk. Dít sluit ook pres. Jacob Zuma se nuutste voorstel van distrikskomitees vir grondhervorming in.
Dié voorstel het sy ontstaan binne die Nasionale Beplanningskomissie gehad en is deur die president in ’n toespraak op die eerste jaarlikse kongres van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) voorgehou.
Lees meer oor dié voorstel hier.
Goed en sleg
Mulder sê die voorstel het slegte, maar ook goeie gevolge. Hy sê die voorstel om grondhervorming af te wentel na die plaaslike gemeenskap is ’n stap in die regte rigting.
“Die plaaslike landbougemeenskap is in ’n baie beter posisie om voorstelle te doen oor grond wat oorgedra kan word. Hulle ken ook die plaaslike gemeenskap en weet wie sal as boer op sulke grond kan slaag.”
Verder meen hy dis goed dat die president probeer om die onsekerheid en gebrek aan belegging in die landbou met die voorstelle uit die weg te ruim.
“Sy voorstel van 50% van markwaarde as vergoeding waar grond oorgedra word, is totaal onrealisties en verwag van boere om die koste van grondhervorming te dra. Dit is onprakties en sal nie die probleme oplos nie,” aldus Mulder.