Minister Tina Joemat-Pettersson kan nie opdragte aan hom gee nie, maar slegs versoeke rig, sê dr. Pieter Mulder.
Dít volg op die Sunday Times se berig dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, ekstra hard moet werk en vir Mulder, haar adjunk moet skerm, omdat hy na bewering lyf wegsteek.
Slegs versoeke kan deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye aan haar adjunk, dr. Pieter Mulder, gerig word om haar amptelik te verteenwoordig.
Skade
Joemat-Pettersson se beeld het die afgelope ruk ’n knou gekry toe bewerings aan die lig gekom het dat sy R1,6 miljoen belastingbetalersgeld aan luukse-hotelverblyf bestee het. Sy ontken die beweringe en die Openbare Beskermer ondersoek nou die saak.
Mulder het aan Landbou.com gesê dat die minister nie opdragte aan hom kan gee om haar amptelik te verteenwoordig nie, maar slegs versoeke kan rig. Mulder is ook leier van die VF Plus.
Hy het gesê van die elf versoeke wat van haar kantoor gekom het om haar te verteenwoordig, kon hy nege bywoon. Die ooreenkoms met pres. Jacob Zuma is dat hy steeds sy rol as opposisielid sal speel. Zuma het ook al die pad geloop.
‘‘Toe die president deel van die IVP se provinsiale kabinet in KwaZulu-Natal was, het hy steeds ANC gebly.’’
Geen 'moeilikheid nie'
As die minister vasdraai en hy is beskikbaar, sal hy haar verteenwoordig.
‘‘Ek het nie moeilikheid met Joemat-Pettersson nie, solank ons mekaar se verskillende rolle respekteer en die nodige ruimte gee vir ons werk in ons partye.’’
As Joemat-Pettersson enige besware het, kan ons met die president gaan praat, het hy bygevoeg. Joemat-Pettersson het al vroeër self gesê dat sy en Mulder goed saamwerk en dat hy verantwoordelik is vir die hersiening van 33 stukke wetgewing by die departement. Hy is ook verantwoordelik vir die bosbousektor.
Mnr. Selby Bokaba, woordvoerder vir Joemat-Pettersson, het gesê dat die verhouding tussen Joemat-Pettersson en Mulder goed en professioneel is, hoewel hulle van verskillende politieke partye kom. Joemat-Pettersson het al baie take aan Mulder toevertrou wat hy uitstekend uitgevoer het, sê Bokaba gesê.
29 November 2011