Die besetting van munisipale grond langs Dakotaweg in Kimberley “hou vir niemand voordele in nie”, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy sê die organisasie hou die situasie dop, want as nie daadwerklik opgetree word om die beweerde onwettige besetters van die grond te verwyder nie, “maak dit die pad oop vir iets wat totaal onwettig in ons land is.”
AfriForum het ’n brief aan die munisipale raad van Khara Hais gestuur om kapsie te maak omdat die besetters nie van die grond verwyder word nie. Sedert 12 Januarie vanjaar het mense na die stuk grond begin stroom. Die grond is glo vir die oprigting van HOP-huise geoormerk.
Die munisipale raad het op ’n vergadering besluit dat die besetters verwyder moes word, maar die besluit is later herroep, word beweer.
Geen water of sanitasie
Die besetters woon tans op die grond sonder dat enige voorsiening vir water en sanitasie gemaak is. Gevolglik word gesondheidsregulasies oortree.
Die strukture wat opgerig is, doen ook afbreuk aan die eiendomswaarde van die omgewing, én die mense wat op ’n waglys is om eerste huise van die staat te ontvang, word van hul reg ontneem.
Die organisasie sê hy het die raad ook gewaarsku dat as die besetters vir meer as vier maande lank op die grond is, ’n hofbevel nodig sal wees om hulle af te sit. Verder sal die munisipaliteit dan alternatiewe behuising aan die besetters moet verskaf – en dít sal onnodige uitgawes wees.
Möller sê dié situasie het nie net ’n invloed op die buurte in die omgewing nie, maar ook op die landbougemeenskap. Hy sê die bekende Oranjerivier-wynkelder sê hy het reeds inkomste ingeboet, omdat toeriste en besoekers afgeskrik word deur die plakkers langs die pad na die kelder.
10 April 2012