Gratis advies oor omgewingsbestuur en impakstudies sal voortaan vir sukkelende munisipaliteite in Noordwes by ‘n pro bono-kantoor beskikbaar wees.
Luidens ‘n verklaring het die Noordwes Universiteit dié kantoor op sy Potchefstroom-kampus geopen.
Dié stap volg ná die Departement van Omgewingsake ondersoek ingestel het en ‘n behoefte by veral arm munisipaliteite geïdentifiseer het. Dié departement het met verskeie universiteite gesels, en het besluit om as ‘n loodsprojek ‘n kantoor op dié kampus te open.
“Plaaslike regerings bevind hulself vandag in ’n baie komplekse bestuursomgewing en het dikwels nie die kundigheid en hulpbronne om die gepaardgaande uitdagings die hoof te bied nie.
"Hulle moet aan ’n enorme hoeveelheid wette en regulasies voldoen en weet nie altyd watter tipe magtiging vereis word vir die projekte wat hulle aanpak nie,” sê prof. Francois Retief, verteenwoordiger vir die navorsingseenheid Omgewingswetenskappe en -bestuur op die kampus.
Wyer invloed
Retief sê plaaslike ondernemings sal ook by die projek baat omdat hulle kundigheid moontlik by die implemetering van projekte benodig sal word. Die projek behoort, volgens Retief, ook onregstreekse voordele vir die landboubedryf in te hou.
Dit sal munisipaliteite na verwagting help om water beter te bestuur en versorg, en om infrastruktuur beter in stand te hou en te ontwikkel. Retief sê hoewel die projek tans net op plaaslike munisipaliteite fokus, sal dit graag na ander bedrywe, soos mynbou en landbou wil uitbrei.
“Indien die landbou homself so kan organiseer om sulke studies en toetse te befonds, sal ons gelukkig wees om hulle ook by te staan,” aldus Retief.
16 projekte
Retief is die koördineerder van die projek, terwyl mnr. J.P. de Villiers as ’n professionele omgewingskonsultant optree en die kantoor sal bestuur. Verskeie honneursstudente van die universiteit se Geografie en Omgewingsbestuur-fakulteit is reeds gekeur en besig met 16 projekte in die provinsie.
Van die studente staan onder meer die plaaslike munisipaliteite van Coligny en Lichtenburg by met dorpstigting en begraafplaasbeplanning.
‘n Bedrag van R3 miljoen is deur die departement van omgewingsake vir drie jaar aan die kantoor beskikbaar gestel, met die verwagting dat dit daarna selfonderhoudend sal word. “Ons beskou dit as deel van ons gemeenskapsbetrokkenheid, aangesien die waarde van die werk wat ons doen in werklikheid veel meer as R1 miljoen per jaar beloop,” sê Retief.
1 November 2011