
Die Forum vir Belanghebbendes by Vhembe Minerale Hulpbronne (VMRSF) het vandeesweek gewaarsku dat hy die goedkeuring vir Coal of Africa (CoAL) se uitbreiding van sy Vele-myn naby die Mapungubwe-wêrelderfenisgebied, gaan teenstaan.
Dit volg nadat die adjunk-direkteur-generaal van omgewingsake, mnr. Ishaam Abader, aan CoAL toestemming gegee het om die Vele-myn se voetspoor vyf keer te vergroot. Netwerk 24 berig CoAL het tot dusver ’n stuk grond van 109,12 ha (280 rugbyvelde) ontbos deur hoofsaaklik inheemse mopaniwoud op die oewer van die Limpoporivier uit te kap. Nou mag die maatskappy die myn se voetspoor uitbrei na 499,7 ha (1 000 rugbyvelde).
Die VMRSF, wat uit kommersiële boere, sakelui en tradisionele owerhede in die Vhembe-distrik bestaan, sê dit is baie duidelik dat die lede van die Forum se belange nadelig beïnvloed gaan word en etlike omgewingsregbeginsels oortree is deur dié goedkeuring.
’n Onlangse besoek deur ’n groep kundiges wat die impak van CoAL se bedrywighede op die Vhembe-distrik ondersoek, het bevind dat die Vele-myn ’n negatiewe uitwerking op beide die gehalte en beskikbaarheid van water sal hê.
Inwoners van die omgewing is ook volgens Van Wyk bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat CoAL se bedrywighede op werksgeleenthede in die landbousektor gaan hê. Die myn salk dalk ’n paar honderd werksgeleenthede sal skep terwyl steenkool gemyn word, maar sal op die einde niks meer as vernietiging nalaat nie.
Die Vhembe-gebied lê noord van die Soutpansberg. Dit begin by Alldays in die weste en strek verby Musina, tot by Pafuri langs die Krugerwildtuin in die ooste.