’n Boer van Durbanville is hoogs ontsteld nadat ‘n myngroep hom in kennis gestel het dat hulle op sy wynplaas wil myn.
Luidens ’n berig op News24.com het die Ithokazi-mynmaatskappy mnr. Pierre Winshaw in kennis gestel dat hulle vir sand en klip op sy plaas wil begin myn.
Volgens Winshaw het hy in Augustus ’n brief van die maatskappy ontvang wat hom in kennis stel dat hulle aansoek gedoen het om op sy plaas te myn. Winshaw het glo baie min tyd gekry om teen die aansoek te appelleer.
Helfte van die plaas
Hy is onlangs in kennis gestel dat die groep nou 44 ha van sy plaas vir hul mynaktiwiteite gaan opgrawe. Dit is die helfte van dié wynboer se plaas.
Die plaas is al 40 jaar in Winshaw se familie, en hy sê hy is gekant teen enige mynaktiwiteite op sy grond.
Verskeie ander boere in die Wes-Kaap het verlede jaar regstappe gedoen in ’n poging om te keer dat prospekteerregte op hul plase aan African Exploration Mining Corporation toegestaan word.
Landbou.com wag tans op terugvoering van Agri Wes-Kaap oor die voorval.
Bron: News24.com
29 September 2011