
Wynmakers in die Swartland is ontstoke en verslae oor “soveel onbeantwoorde vrae” ná die Swartlandse munisipaliteit ingestem het dat vir sand gemyn kan word op grond in die Aprilskloof en Siebritskloof teen Paardeberg.
Dis ’n uiters gesogte wynmaakgebied, met besondere en ou wingerde. Die Paardeberg-streek het veral bekend geraak danksy wynmakers soos Eben Sadie van The Sadie Family Wines en Adi Badenhorst van AA Badenhorst.
Volgens Badenhorst het verskeie lede van die groep Swartland Independent-wynprodusente die afgelope twee jaar geveg om dié sandmyne te keer. Hulle glo nie die wyn- en mynbedrywe kan saam bestaan nie. Die Paardeberg se verweerde granietgrond hou ongelooflike wingerdboukundige waarde. Mynbou-aktiwiteite sal nie net die landskap verander nie, maar ook waardevolle grond vernietig.
Die regte kanale gevolg
“Ons het die afgelope twee jaar die regte kanale gevolg en met almal gesels. Kamstige impakstudies is gedoen, maar so baie vrae is nog nie beantwoord nie,” het Badenhorst gesê. “Ons wil net die plek beskerm. Ek wil nie oor twintig jaar vir my seun en dogter moet sê ons het dié goed laat gebeur nie.”
Volgens hom het hulle vertroue gehad in die Swartland-munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsprogram, wat die beskerming van landbougrond voorop stel en die Paardeberg as ’n bewaringsgebied oormerk. “Dis hoekom ons nie vantevore die media betrek het nie.”
Hoewel hy empatie het met boere wat finansieel sukkel, glo hy nie sandmyn-aktiwiteite is ’n langtermynoplossing nie.
As jy desperaat is
“Ongelukkig neem jy verkeerde besluite en reageer emosioneel as jy desperaat is. Dis ’n tragiese ding. Maar, as jy sand wil myn moet ’n volle impakstudie eers op die grond gedoen word. As jy dit nie kan bekostig nie, is dit mos nie ’n goeie besigheidsplan nie.”
Volgens me. Madelein Terreblanch, Swartland Munisipaliteit se kommunikasiehoof, word die mynregte deur die Departement van Minerale en Energie uitgereik. ’n Munisipale tribunaal beslis oor grondgebruik vir ’n spesifieke aktiwiteit.
“Die tribunaal se besluit is tans onderhewig aan appèl,” was al wat sy bereid was om te sê. Sy kon nie sê hoe lank beswaarmakers het om appèl aan te teken nie, maar die munisipaliteit sal binnekort ’n mediaverklaring hieroor uitreik.