
Planne om in die Vhembe-gebied te myn op soortgelyke wyse as wat op Mpumalanga se steenkoolvelde gedoen word, kan katastrofiese gevolge vir een van die wêreld se grootste kransaasvoël broeikolonies hê, sê mnr. Johan van Wyk, bestuurder van die Blouberg Natuurreservaat naby Vivo in Limpopo.
Van Wyk het 'n groot groep boere in die Waterpoort Boerevereniging se saal toegespreek tydens 'n vergadering van die Forum vir Belanghebbendes by Vhembe Minerale Hulpbronne (VMRSF).
Hy het gesê die kransaasvoël kom nét in suidelike Afrika voor en broei slegs in Suid-Afrika. Na skatting is daar sowat 2500 broeipare in die streek, waarvan 1015 pare in die Blouberg se kranse broei en 'n verdere 168 pare in die Soutpansberg.
Van Wyk sê hierdie voëls is die kern van die land se kransaasvoël-bevolking. Hy sê dat die habitat vernietiging wat met mynwerksaamhede gepaard gaan asook die kragdrade wat myne van elektrisiteit voorsien, eis 'n geweldite tol op dié voëls.
Hy wys daarop dat 630 voorvalle aangemeld is van kransaasvoëls wat doodgeskok is deur kragdrade van 1996 tot 2013. Hy sê dit is maar 'n druppel aan die emmer van die totale getal aas- en roofvoëls wat teen kragkabels aan hul einde kom.
Wat hulle habitat betref wys mnr. Christo Rheeder, die prokureur wat namens die VMRSF optree in 'n poging om die beplande myne in Vhembe te stuit, dat die totale oppervlakte wat deur myne geraak sal word tot 130 000 ha kan beslaan.