
Die manier waarop mynbedrywighede in Mpumalanga voortgaan, is 'n wesenlike bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika.
Dit gaan die verskil tussen surplusse en tekorte beteken, sê mnr. Jannie de Villiers, ondervoorsitter van die Mielietrust.
Mediaverteenwoordigers en ander belanghebbendes het onlangs oor die myngebied van Mpumalanga gaan vlieg om die omvang van die verwoesting te bekyk.
De Villiers het aan hulle gesê die invloed van mynbou in dié gebied op mielieproduksie in die land kan ’n miljoen ton wees.
Sou mielie-tekort beteken
“As ons vanjaar ’n miljoen ton mielies moes prysgee, sou dit ’n tekort beteken het. Dit sou die mielieprys van uitvoer- na invoerpariteit verhoog het – en die mielieprys met ’n verdere R1 500 per ton (of 60%). Ons kla reeds oor hoë pryse. As meel se prys 60% hoër was, sou dit rampspoedige gevolge vir armoede en voedselsekerheid in die land gehad het.”
Die Universiteit van Pretoria se Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het navorsing gedoen oor wat die invloed van mynbou op landbouproduksie in dié gebied is.
Die gebied tussen Delmas, Ogies en Leandra is vir die studie gebruik. Mnr. Gerhard van der Burgh, ’n ontleder by die BFAP, het gesê Suid-Afrika het net 1,5% grond met hoë landboupotensiaal. Daarvan is die helfte in Mpumalanga. Net die klein deel van 170 000 ha waarop in die studie gefokus is en waarvan 90 000 ha bewerk word, verteenwoordig reeds 5% van die land se beste saaigrond.
“As ons die mielies net in hierdie klein gebied moet uithaal, het dit reeds ’n invloed van R300 per ton op die prys van mielies. Dit sal ook die prys van mieliemeel met 5% verhoog. As die hele provinsie in ag geneem word sal dit ’n geweldige invloed op die prys hê."