Mnr. Koot Claassen, voorsitter van Mpumalanga Landbou en ’n voorste mielieboer van Delmas, het ál sy plaasgrond in dié provinsie verkoop.
Hy het aan Landbouweekblad gesê die probleme met mynbou in die provinsie is die grootste enkele rede waarom hy sy boerdery in dié provinsie beëindig. “Ons besproei tans 1 000 hektaar, maar suur mynwater maak dit nie meer die moeite werd nie.”
Grondhervorming en diefstal het ook ’n invloed gehad. “Dit het al hoe duurder geword om die nodige sekuriteit te bekom. Ons moes ernstig vra of dit nog ekonomies lewensvatbaar is om in Mpumalanga te boer.” “Dinge in Suid-Afrika is op ’n mespunt en ek moet my nageslag in ag neem,” het Claassen aan Landbouweekblad gesê.
Claassen het reeds grond in die Swartland (Wes-Kaap) gekoop en beoog om voortaan met koring, wyndruiwe en skape te boer. Hy oorweeg ook boerdery-opsies in Australië.
“Ek spook al amper ’n jaar met hierdie besluit. Die boere wat optrek in Afrika het baie moed, maar op die lang duur blyk Australië die beste opsie te wees.” Claassen sê hy het ’n plig teenoor sy nageslag. Sy kinders neem stadigaan die boerdery oor.
Mynbedrywighede
“Ek boer grootliks om die plaaslewe te geniet, maar mynbedrywighede maak dít onmoontlik. Grondwaardes daal ook drasties as gevolg van mynbedrywighede.” Claassen tree Junie uit as voorsitter van Mpumalanga Landbou.
“Ek het met die destydse ontbinding van Agri Mpumalanga gesê ek sal intussen die leiding neem, maar dit het nou tyd geword dat die jonger manne leiding moet neem.”
Die Claassens het besluit om vir eers in die Wes-Kaap te gaan boer. Hulle meen dié provinsie gaan waarskynlik laaste deurloop in die grondhervorming-stryd. Hul rede om met koring, wyndruiwe en skape te boer, is omdat dié drie kommoditeite volgens hul berekeninge in die toekoms al hoe meer sal blom.
“Ek dink nie die vervoerdifferensiaal sal meer lank hou nie en op lang termyn kan koring ’n stewiger toekoms as mielies inhou.” Claassen meen ook die land se wynbedryf bied goeie potensiaal mits internasionale bemarking verbeter word. Hy sê egter dat die Suid-Afrikaanse landbou op ’n verloorpad is en dat Australië die beste antwoord is.
16 Maart 2012