
Sowat 450 000 ton mielies en sowat 50 000 ton sojabone kan uit Suid-Afrika se produksie verwyder word weens mynboubedrywighede in Mpumalanga.
’n Toetsstudie is deur die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) in dié provinsie onderneem om die invloed van die uitbreiding van mynbou op die landboubedryf te bepaal.
Dr. Ferdie Meyer, direkteur, sê die studie het op die omgewings van Delmas, Ogies en Leandra gefokus. Hy sê sonder om opbrengsverbeteringe in ag te neem, kan 447 581 ton mielies en 49 889 ton sojabone in dié streke in die slag bly.
Produktiewe landbougrond verlore
Die uitbreiding van mynboubedrywighede kan daartoe lei dat produktiewe landbougrond op 79 967 ha oor `n tydperk van vyf tot 10 jaar vir dié bedryf en Suid-Afrika verlore sal wees.
BFAP se model bepaal dat dié produksieverliese kan lei tot `n styging van sowat 9% in die mielieprys. “Oor die korttermyn is mynbou se bydrae tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) aansienlik hoër as dié van landbou, maar oor die langtermyn kan landbouproduksie as meer volhoubaar beskou word.”
Volgens BFAP raak dit dus meer belangrik om begrip te toon vir die impak van voedselsekerheid en die verskaffing van werkgeleenthede. Voedselsekerheid bestaan uit verskeie elemente, maar die beskikbaarheid van voedsel en maklike toegang daartoe is die mees kritieke dryfvere daaragter.