Twee staatsdepartemente gaan mekaar die stryd in die Grondwethof aansê oor mynlisensies en voedselsekerheid, aldus Agri SA.
Luidens ‘n verklaring is dié organisasie toegelaat om toe te tree as ‘n vriend van die hof tydens die verhoor van die Departement van Minerale Hulpbronne, Waterwese en Omgewingsake en die Wes-Kaapse provinsiale Wetgewer.
Die doel van die hofsaak is om vas te stel wie ‘n bepalende sê moet hê wanneer die toestaan van ‘n mynlisensie oorweeg word. “Agri SA is van mening dat die Minerale- en Petroleumhulpbronne Ontwikkelingswet nie genoegsaam ag slaan op die uitwerking van mynbou op voedselproduksie en voedselsekerheid wanneer die toestaan van mynlisensies oorweeg word nie,” aldus mnr. Johannes Möller, voorsitter. Dít is die rede hoekom die organisasie tot die stryd toegetree het.
Kliënte moet beskerm word
Möller sê Agri SA wil nie net landboubelange beskerm nie, maar ook die verbruiker (die bedryf se kliënte) se regte. “Dié ekonomiese en ander bydraes van mynbou-ontwikkeling, wat gewoonlik van ‘n beperkte tydsduur is, moet gebalanseer word met die noodsaak om natuurlike hulpbronne vir doeleindes van langtermyn volhoubare landbouproduksie toereikend te beskerm. Voedselsekerheid en -veiligheid kan nie sondermeer vir korttermyn ekonomiese gewin opgeoffer word nie.”
Möller sê weens die wye impak wat mynaktiwiteite kan hê, moet die Departement van Minerale Bronne nie uitsluitlik die reg hê om oor die toestaan van lisensies te besluit nie. “Die kollektiewe invloed wat ‘n groot aantal mynbouprojekte in ‘n streek op die omgewing, samelewing, infrastruktuur, die landbou en ekonomie het, word nie na behore met mynbouwetgewing en -ontwikkeling in ag geneem nie.”
(Lees ook: Mynbou eis bekend plaas Moabsvelden)
Watergehalte in die kollig
Agri SA wag tans met groot verwagting op die uitslae van ‘n omvattende studie oor watergehalte wat verlede jaar deur NEDLAC onderneem is. Die verslag is tans op me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, se tafel. Möller sê die studie fokus onder andere op die risikos wat die dreinering van suurmynwater vir die samelewing kan inhou.
“Agri SA betreur die feit dat ministers mekaar nou die stryd in die hoogste hof moes aansê , terwyl die betrokke departemente deur die tydige harmoniëring van wetgewing en behoorlike koördinering tussen staatsdepartemente, sodanige konflik kon vermy het”, sê Möller.
20 Februarie 2012