
In die verlede het mynhuise Namakwalandse boere laat les opsê oor minerale regte, maar vanjaar het die staat hulle geboelie, het mnr. Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, by die organisasie se algemene jaarvergadering op Springbok gesê.
Volgens hom wou die staat in sekere dele van Namakwaland elke duisend meter grondmonsters van die bogrond met 'n helikopter neem. "Julle was almal in die weermag en weet hoe 'n helikopter diere laat rondhardloop. Ons het omtrent 'n stryd gehad om vir die staatsamptenare in Afrikaans én Engels te verduidelik dat hulle grondeienaars moet inlig voordat hulle oor hul grond vlieg en land."
Noudat die restitusieproses heropen is, het Jacobs gesê dat dit belangrik is dat grondeienaars van Namakwaland hul grond-huis in orde moet kry. "Sê asseblief wie is die eienaars van plase, of dit kommersiële grond, kommunale grond is, en of dit aan SANParke behoort. Ons moet die grondoppervlaktes ook kry, veral omdat daar plase verkoop is ná ons oudit van 2007, en ons moes raai hoe groot hulle is."
Hy het in sy voorsittersverslag vir mnr. Cornelis van der Westhuizen van Kamieskroon bedank wat gehelp het dat hulle die aanslag van grondbelasting van R4 000 per R1 miljoen-grondwaardasie wat in Junie van die munisipaliteit Nama Khoi ontvang is, deur onderhandeling te kon afbring tot minder as R700 per R1 miljoen-waardasie.
Jacobs sê as hulle dit nie gedoen het nie, sou die belasting op 'n plaas van 6 000 hektaar tot R25 000 gestyg het. "Kommersiële boere besit net 50% van die grond in Namakwaland. Ongelukkig het die munisipaliteit nie net 'n 50% rekening nie. Hulle het 'n 100% rekening, wat hulle van ons probeer verhaal."
Springbok het na ses jaar in Mei vanjaar weer 'n staatsveearts gekry. Hulle is baie dankbaar daaroor, dog een veearts, twee dieregesondheidstegnici en een intern is nie genoeg om Namakwaland se 5,2 miljoen hektaar behoorlik te bedien nie.
Agri Namakwaland is 'n unie van die boereverenigings Boesmanland, Buffelsrivier, Gamoep, Garies, Kameelkrans, Kamiesberg, Kamieskroon en Nourivier.