Res Gen SA, ’n maatskappy met ’n Australiese moedermaatskappy, slyp sy tande vir die steenkoolreserwes van die Bosveld.
Res Gen SA doen tans ’n omgewingsimpakstudie by Steenbokpan naby Lephalale in Limpopo en onderhandel met grondeienaars van die gebied om teen die Limpoporivier te begin myn.
Ná die chaos met die prospekteeraansoek in die Wêrelderfenisgebied Mapungubwe en die Minister van Minerale Hulpbronne se moratorium op die aansoeke om prospekteerlisensies, het grondeienaars ’n oomblik lank moed geskep. Tot dusver volg Res Gen SA die wetlike prosesse.
Kwessie van tyd
Die boodskap wat grondeienaars op ’n vergadering van die Boikarabelo-projek ontvang het, was egter nie een wat hulle graag wou hoor nie. “Iemand gáán die steenkool kom myn. As dit nie ek is nie, sal daar ’n volgende ou wees,” het mnr. Hennie van Aardweg van Res Gen SA gesê.
Van Aardweg sê hy is “liewer eerlik in die moeilikheid as met leuens”. Tydens die openbare deelnameproses is die agtergrond aan grondeienaars verduidelik. Konsultante het die omgewingsimpakstudie verduidelik.
Die proses sluit ook die vervoer van die steenkool vanaf die myn teen die Limpoporivier tot by die aansluiting van die treinspoor by Soutpan in. Altesame 38 vragmotors per uur sal steenkool aanry wanneer die myn in volle produksie is.
Dit beteken ’n vragmotor elke minuut en ’n half in een rigting. Die getalle verdubbel as die tweerigtingverkeer in ag geneem word. Die impak van geraas- en lugbesoedeling en verhoogde gevaar en druk op die pad, is ’n groot bron van kommer vir grondeienaars al langs die roete.
Struikelblokke
Res Gen SA poog om so gou moontlik ’n spooraansluiting te laat bou wat die verkeer van die paaie sal hou. ’n Nuwe spoorlyn sal egter ook groot impak op grondeienaars langs die lyn hê. Die proses kan moontlik tot vyf jaar duur.
Nog ’n struikelblok is die beskikbaarheid van water. Die maatskappy het aansoek gedoen om deel te vorm van die tweede fase van die Mokolo-Krokodil-Wes-wateraanvullingsprojek. Maar die uitvoer daarvan hang af van die betrokkenheid van Sasol en Eskom.
Intussen onderhandel die onderneming met Eskom om oortollige water vanaf die Medupiprojek te koop. Die projek sal, wanneer dit voltooi is, werk aan 702 mense verskaf.
Res Gen SA gaan nie behuising in die Steenbokpanomgewing oprig nie. Vervoer kan moontlik vanaf Lephalale voorsien word.
Geen volledige rehabilitasie
Mnr. Hein Boegman, ’n grondeienaar, wou graag weet hoe die veiligheidstandaarde en veral omgewingsbewaringstandaarde van Suid-Afrika of Australië toegepas sou word. Van Aardweg het hom verseker dat die hoogste standaarde gehandhaaf sal word.
Die frustrasie van inwoners was duidelik sigbaar, veral toe die konsultante noem dat volledige rehabilitasie onmoontlik is. “Die jagbedryf en toerisme kan nie ná 30 jaar net weer aangaan waar dit opgehou het nie,” het mnr. Willem Brits, nog ’n grondeienaar, gesê.
“Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.”
21 September 2010