Indien suur mynwater oor ‘n lang tydperk in besproeiingswater voorkom, sal soute en minerale later in die grond en gewasse waargeneem kan word.
Van die riete en grond wat by ‘n mynskag naby Rand Uranium in Krugersdorp voorkom, dien as ‘n voorbeeld hiervan.
Landbou.com het die Tweelopiespruit, waar die suur mynwater tans uit die westelike mynkom uitsyfer onlangs saam met prof. Anthony Turton, waterkundige, besoek. Die spruit staan bekend as Yellow Boy aangesien die grond in die spruit ‘n geel-oranje kleur het weens al die metale wat daarin afgesak het.
Die water loop in die Krugersdorp Wildtuin se dam in, wat naby die uitvloeipunt geleë is.
Geen ekostelsel
Dit kan duidelik gesien word dat daar geen diere in die stroom voorkom soos wat in ander riviere die geval is nie. Daar is geen visse, krappe, paddas of paddavisse in die water aanwesig nie.
Geen naaldekokers of vlieë het ook bokant die water gevlieg tydens die besoek nie. Turton sê dié verskynsel kan daaraan toegeskryf word dat die water geen biologiese balans het nie en diere dus nie daarin kan oorleef nie.
Versteende plantmateriaal
Turton het ‘n stuk versteende riet aan landbou.com gewys wat duidelik uitwys wat met plantmateriaal wat vir ‘n lang tydperk aan hoogs gekonsentreerde suur mynwater blootgestel is, kan gebeur. Die riet het op ‘n betonpilaar versteen en die sout- en mineraalringe kan soos die ringe in ‘n boomstam duidelik daarom gesien word.
Volgens Turton is dít hoe gewasse kan lyk as dit vir ‘n lang tydperk met dié chemies besoedelde water besproei word.
Die water wat tans by die mynkom uitsyfer loop deur die Tweelopiespruit na die Hartebeespoortdam en die Krokodilrivier.
Kyk na ‘n fotogalery en video van die Tweelopiespruit en prof. Turton.
Hoeveelhede
Volgens Turton vloei tussen 15 en 25 kubieke liter suur mynwater tans daagliks uit die westelike mynkom in riviere in. “Tydens die reënseisoen is dit egter baie meer.”
Hy sê volgens ‘n volhoubaarheidstudie deur Western Utilities Company is bevind dat ‘n gemiddeld van 300 kubieke liter suur mynwater daagliks in vier mynkomme in die noorde van die land invloei. In die sentrale mynkom, wat na verwagting in 2012 in Johannesburg kan oorvloei, loop daagliks tussen 45 en 50 kubieke liter suur mynwater in.
Turton sê hy verwag dat die oorvloei by Cinderella Lake in Boksburg sal plaasvind. Die vloei vir die oostelike mynkom is tussen 79 en 95 kubieke liter per dag, en vir die verre westelik kom, is dit tussen 75 en 125 kubieke liter per dag.
Oplossings?
Turton sê voor ‘n behoorlike oplossing vir dié probleme gevind kan word, moet eers besluit word watter balans Suid-Afrika tussen mynbou- en landboubedrywighede en voedselsekerheid wil behou.
Hy sê dinge kan voortgaan soos dit tans doen, maar die land moet besef dat hy byvoorbeeld nie meer voedsel gaan kan verbou nie, en derhalwe ‘n netto invoerder van voedsel sal word.
25 Oktober 2010