
Luidens 'n berig op Sake24.com het vyf appèlregters die beslissing in Bloemfontein gemaak.
Honderde grondeienaars, wat boere insluit, het op dié uitspraak gewag. Die grondeienaars was tot en met die inwerkingtreding van die wet in 2004 die mynreg-eienaars op hulle grond, en het hulle gewag om te besluit of hulle met eise om vergoeding teen die Regering sou voortgaan.
Dié beslissing beteken dat die grondeienaars geen eis teen die staat het nie. “Kragtens die wet het alle mineraleregte na die staat teruggegaan en daar moes weer daarom aansoek gedoen word – die sogenaamde nuwe-orde-regte,” lui die berig. Die regters meen dat die geskiedenis van mynregte in Suid-Afrika bewys dat die staat nog altyd die reg gehad het om besluite te neem oor prospekteerregte, mynbedrywighede en die verkoop van gemynde minerale.
Agri SA se argument nie aanvaar
Volgens die berig was die regters nie bereid om Agri SA se argument – dat grondeienaars nou onteien is van hul reg om hul mynregte te verkoop, as sekuriteit te gebruik of aan hul erfgename na te laat – te aanvaar nie.
Mnr. Dawie Maree, kommersiële bestuurder van Agri SA, sê hulle bestudeer tans die uitspraak van die hof en sal met behulp van hulle regsverteenwoordigers besluit of hulle appèl sal aanteken teen dié bevinding. Sou 'n appèl aansoek goedgekeur word, sal die saak in die Grondwethof gaan draai.
Bron: Sake24.com