
Landboukollege Potchefstroom se bestuur en die Noordwes se departement van landbou werk tans aan ‘n aksieplan om die probleme en vervalle toestand van die kollege te herstel.
Mnr. Ernst Roets, die voorsitter van AfriForum Jeug, sê die kollegebestuur het Maandag (7 Februarie), gesê dat hulle “klein goedjies sal begin herstel” en dat ‘n CCTV-stelsel oorweeg word om die veiligheid by die kollege te verbeter.
“Ek het met mnr. Poncho Mokaila, die direkteur, en mnr. Dipepeneneng Serage, kollegehoof, vergader en hulle het my gewaarborg dat ‘n aksieplan vir die regruk van die kollege teen Donderdag (10 Februarie) afgehandel sal wees”, aldus Roets.
Bestuur sloer nie
Intussen sê die departement in ‘n verklaring hulle verwerp berigte en beweringe dat die bestuur hulle voete sleep om die probleme by die kollege en die toestande waarin studente moet bly, aan te spreek.
Die departement sê hulle erken dat verbeterings en instandhoudingswerk nodig is, en die departement het reeds ‘n versoek vir ernstige herstelwerk by die departement van openbare werke ingehandig. Die proses moet egter oor die langtermyn aangepak word.
In 2009 is die administrasiegeboue opgeknap teen R6,6 miljoen. Teen November 2010 is opknapping van R7,6 miljoen van die Alexholm-saal reeds voltooi – hoewel studente verlede jaar aan Landbou.com uitgewys het dat dié saal slegs gebruik word om funksies aan te bied wat glo vir die kollege ‘n inkomste inbring.
Sou die studente dié saal wou gebruik, is hulle nie toegelaat nie. ‘n Bedrag van R18 miljoen is glo begroot om drie koshuise en die navorsingsgebou in die 2011/2012- en 2012/2013-boekjare reg te ruk.
‘n Verdere R14 miljoen is begroot vir die opknapping van die Selbourne- en Castlegeboue in die 2011/2012-geldjaar. Mnr. Boitemelo Tshwene, die Noordwes LUR vir landbou, het in die verklaring ook onderneem om seker te maak dat die kollege se kombuis gereeld deur gesondheidsinspekteurs besoek word.
Klasse ten volle tweetalig
Die departement sê klagtes van studente oor een dosent wat glo nie klasse in Afrikaans en Engels aanbied nie, en glo nie notas aan Afrikaanse studente wou voorsien nie, is “ongegrond”. Volgens die departement is tolkdienste sedert 2007 ingestel om te sorg dat daar in alle taalgroepe se behoeftes voorsien word.
Volgens die departement het dié dosent se klas ook ‘n slaagsyfer van 90%.
Vandalisme
Volgens die departement het hulle al op verskeie geleenthede hulle kommer oor vandalisme van die kampus deur studente, en die verwydering van brandblussers en brandslange, deur studente uitgespreek.
Hulle beweer dat die departement brandblusers, stortkoppe, gebreekte ruite, ens. na elke kwartaal tydens vakansietye vervang. Volgens Landbou.com se bronne is die gebreekte ruite, vermiste brandblusers, brandslange, gebreekte toilette en lekkende waterpype wat ons tydens ‘n besoek in April verlede jaar gesien het - vervang nie.
Reaksie na amper ‘n jaar
Dit was ook vir Landbou.com verrassend dat die departement onlangs op navrae van TV-nuuskanale reageer het, maar dié verklaring is die eerste terugvoer wat Landbou.com van die departement oor die situasie ontvang.
Dít ná ons sedert April 2010 foto’s van die toestand van die kollege en navrae oor verskeie klagtes aan die departement gestuur het.
Tshwene sê intussen: “Ons vra alle rolspelers wat geraak word, insluitend ouers van die studente om te verstaan watter uitdagings ons in die gesig staar, en om ons te ondersteun wanneer wat ons langtermyn oplossings vir hulle bekommernisse implementeer”.
8 Februarie 2011