
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê in ’n brief aan verwerkers, invoerders en kleinhandelaars van plantgebaseerde produkte wat as “eiers” aangebied word, dat dit onder sy aandag gekom het dat produkte verkoop word as onder meer Plant Eggs, Just Egg, Vegan Eggs, en Plant-based Eggs.
Die gradering, verpakking en bemarking van eiers vir die verkoop daarvan word in Suid-Afrika in die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990) gereguleer. Ingevolge hiervan word eiers luidens die brief gedefinieer as die eiers van Gallus gallus domesticus (hoenders), Meleagrus gallapavo (kalkoene) en Anas platyrhynchos (eende en makoue).
“Plantgebaseerde produkte mag nie die aanspraak ‘eiers’ gebruik nie, omdat die trefwydte van die bogenoemde regulasie net eiers, soos gedefinieer, insluit.” Inspekteurs van die Food Safety Agency, die staatsaangestelde inspeksiediens, sal beslag lê op enige plantgebaseerde produkte met die aanspraak “eiers”.
Dr. Abongile Balarane, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se eierorganisasie, sê die organisasie, wat meer as 85% van eierprodusente verteenwoordig, verwelkom die kennisgewing.