“Daar is nie ’n ander manier om hierdie land te bou as deur vennootskappe en omgee nie. Ons moet hande vat, saamstaan, saamwerk en vorentoe gaan as een nasie.” Hy praat vinnig, amper asof hy nie vinnig genoeg sy boodskap kan uitbring nie.
“Suid-Afrika het die wil, die vaardighede, die geestelikheid, die kennis … ons kan dié land regmaak. Niks is te moeilik nie,” vertel die man wat die afgelope drie dekades al honderde mense se lewe gered het, internasionale krisisse help oplos en hand opsteek om te gaan help by elke ramp denkbaar.
Een van sy voorstelle is om arbeidsintensiewe projekte – soos katoenproduksie – aan die gang te kry. “Dit sal geld na grondvlak laat sirkuleer, na klein gemeenskappe en sentrums, en die wyer ekonomie.”