
Dit was ’n jaar van groot probleme, maar ook dankbaarheid vir die goeie reën en vleispryse, het mnr. Nico Kilian, nuutverkose voorsitter, verlede week in Klerksdorp op die jaarlikse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (NWRPO) gesê.
Killian het in sy voorsittersverslag gesê rooivleis is die grootste sektor in die Suid-Afrikaanse landbou. Daarom is dit belangrik dat die rooivleisbedryf uitgebou en die waardeketting benut word.
“Uitvoer is een van ons grootste prioriteite. Tans beloop dit 4%, maar as bedryf moet ons ons doelwit stel op 10%. Dit sal ook binnelandse pryse stimuleer en verhoog,” het Kilian gesê. Die grootste probleme nou in die bedryf is die bek-en-klouseeruitbrekings, die voorkoms van besmetlike misgeboorte (BM) en Onderstepoort Biologiese Produkte se onvermoë om genoeg entstowwe betyds te lewer.
Bek-en-klouseer
Kilian het in sy verslag gesê bek-en-klouseer is die afgelope jaar se grootste probleem en terugslag vir die NWRPO. Hy het die gesamentlike operasionele sentrum bedank dat hy alles in sy vermoë doen om die siekte te bekamp en verdere verspreiding te voorkom.
Hy het gesê dit is betreurenswaardig dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nie flink of vinnig genoeg optree om die ekonomies verwoestende siekte in sy spore te stuit nie. Dit maak samewerking moeilik.
Hy het mnre. Jannie Raath, voorsitter van die Noordwes-dieregesondheidsforum, en Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, bedank dat hulle deel vorm van die sentrum en vir die werk wat hulle daar lewer. Hy het ook dr. Langa Madyibi, direkteur van die Noordwes se departement van veeartsenykunde, bedank vir sy bydrae.
Hy het sy kommer uitgespreek omdat die bekamping en voorkoming van bek-en-klouseer en ander siektes steeds die staat se verantwoordelikheid bly.
Hy het beklemtoon dat elke produsent sy eie biosekerheid op sy plaas moet opskerp om sy eie kudde te beskerm.
“Goeie samewerking tussen die landbouprodukte-agenteraad (Apac), afslaers en produsente sien tans om na die voorkoming en verspreiding van veesiektes op veilings. Hierdie maatreëls is belangrik om die bedryf te beskerm.”
Besmetlike misgeboorte
Hy het gesê dis kommerwekkend dat te veel produsente nie gereeld vir BM laat toets in hul kuddes nie. Toetssentrums werk tans nie goed nie weens finansiële tekorte, personeelprobleme en die gebrekkige instandhouding van toerusting. Die kwessie geniet aandag op hoë vlak.
Vrywillige bydraes
Killian het elke produsent bedank wat bydra tot die vrywillige heffings of aftrekking vir die RPO. “Sonder u bydraes kan die RPO nie die werk doen wat tans gedoen word nie. Ons is afhanklik van elke produsent se bydraes. Dis slegs 0,015% van verkope, of R15 uit elke R10 000.”
Hy het afslaers in Noordwes bedank wat help met die insameling van die vrywillige bydraes en die oorbetaling daarvan aan die NWRPO.
Hy het gesê die statutêre heffing gaan gewysig word.
Kilian het gesê die LITS-stelsel vir naspeurbaarheid is een van die belangrikste aksies wat die RPO aandryf, hoewel dit regtens die staat se verantwoordelikheid is. “Ons glo dit sal spoedig ingestel word. Dis reeds op toetsgrondslag in KwaZulu-Natal ingestel. Die LITS-stelsel sal nie net groot voordele inhou vir uitvoer nie, maar sal siektes soos bek-en-klouseer bekamp en ’n groot impak hê op veediefstal.”