
Die finale prysstygings vir brandstofpryse is pas bekend gemaak:
- 93 oktaan-petrol: R2,57/liter
- 95 oktaan-petrol: R2,37/liter
- Diesel met 0,05% swael: R2,31/liter
- Diesel met 0,005% swael: R2,30/liter
- Paraffien: R2,21/liter
Die departement van minerale hulpbronne en energie het geen aankondigings oor die verlenging van die verligting van R1,50/liter op die algemene brandstofheffing gemaak nie. Die verligting word van Woensdag 6 Julie af tot 75 c/liter verminder. Dié verligting verval op 2 Augustus.
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, het reeds einde verlede maand gewaarsku dat ’n styging van meer as R1,50/liter in brandstofpryse verwag kon word tensy iets drasties verander.
Mnr. Kevin Mileham, DA-LP, sê dié party het vandag sy wetsontwerp vir die deregulering van brandstofpryse by die parlement ingedien. Die publiek sal hopelik later vandeesweek daarop kommentaar kan lewer wanneer dit in die Staatskoerant verskyn.
“Gegewe dat Suid-Afrikaners Woensdag deur nog ’n groot brandstofprysstyging getref word, wat brandstofpryse tot meer as R25/liter sal opskuif, is die primêre doelstelling van die wetsontwerp om die brandstofsektor te dereguleer om mededingendheid op groot- en kleinhandelsvlak te bevorder. Dit sal lei tot laer brandstofpryse vir verbruikers aangesien handelaars met mekaar sal moet meeding om klante op grond van hul pryse te werf.”
Volgens die wetsontwerp sal die mededingingskommissie die prys van brandstof moet monitor om samespanning en die misbruik van oorheersende markposisies te voorkom.
“Die meeste verbruikers bestee ’n beduidende deel van hul salaris op ál duurder vervoer. Die gereelde brandstofprysstygings veroorsaak ook dat baie mense te min het om op ’n ewe duur basiese voedselmandjie te bestee.
“Suid-Afrika se hoë brandstofpryse is die gevolg van die regering se beheermeganismes op brandstofpryse wat mededinging gesmoor en misluk het om doeltreffende kosteverwante pryse te lewer.”
Mileham sê hoër brandstofpryse kom op ’n tyd dat die armstes van die armes reeds gebuk gaan onder die gevolge van 46% werksloosheid, beurtkrag, druk weens globale inflasie wat deur die oorlog tussen Rusland en Oekraïne aangedryf word, en die feit dat die staat totaal ondoeltreffend is.
“Onafhanklike beramings dui daarop dat koste en winste op groothandel-, vervoer- en kleinhandelvlak sowat 20% van die brandstofprys vorm. Dit is onvolhoubaar as Suid-Afrika ’n mededingende brandstofmark en -prysstelsel wil hê wat sy klant teen buitensporige prysstygings beskerm.”